Good Psychology. Net Ilze Neethling
  • Home
  • Publications
  • Products
  • Resources
  • For professionals & Psych students
  • Blog

Dan is Grootmense mos eintlik simpel

22/7/2016

0 Comments

 

Ek kuier baie in TienerLand. Ek geniet tieners ongelooflik en ek dink ons kan baie by hulle leer. Dis te sê as ons hulle verstaan. Maar voor mens tieners kan verstaan moet jy eers uitvind waarom hulle jou nie verstaan nie. En dis nogal scary!
 ʼn Tiener se kognitiewe ontwikkeling beïnvloed baie fasette van sy menswees. Waar hy byvoorbeeld voorheen sy ouers idealiseer het bevraagteken hy nou toenemend sy ouers se waardes en vergelyk dit met ander s’n. Hy sien veral onreëlmatighede tussen sy ouers se waardes en gedrag raak. Dit dra by daartoe dat hy bewus word van hoe sy ouers en samelewing van die ideale afwyk, wat kan lei tot heerlike rebelse optredes! Want wat ouers/grootmense doen maak veel groter indruk as wat hulle sê. Die dat tieners nie altyd die kloutjie by die oor kry of begryp hoekom hulle grootmensreëls moet gehoorsaam nie…
As grootmense een ding sê en ʼn ander doen, weet hulle mos nie wat hulle aanvang of wil hê nie? Hoe kan mens sulke grootmense respekteer en hoe kan mens hulle vertrou? Hoekom ooreet hulle aan skyfies, sjokolade of koek en kla daarna oor vet wees? Hulle rook en drink en beoefen losbandigheid, maar tieners mag nie dieselfde doen nie? Daar’s nie geld vir die TV-lisensie nie maar genoeg vir 4 kartonne skywe? Hoe werk grootmensprioriteite?
Tieners verstaan glad nie hoekom grootmense nie practice what they preach en blykbaar nie die gevolge van hul dade kan insien nie. Nou brei hierdie vrae ook uit na godsdiens. Tieners se toenemende vermoë om hipoteses te formuleer veroorsaak dat sosiale, godsdienstige en politieke stelsels krities ontleed en alternatiewe ondersoek word. Want grootmense beoefen godsdiens op Sondae maar van Maandag tot Saterdag oortree hulle weer die 10 Gebooie. Het godsdiens nie boonop van die grootste oorloë in die geskiedenis veroorsaak nie?
Tieners raak wantrouig om die Bybel te glo omdat hulle redeneer ʼn boek wat deur grootmense geskryf is nie noodwendig vertrou kan word nie. Eintlik is hierdie normale tienervraagstukke en dis hartseer dat tieners gewoonlik stilgemaak word wanneer hulle hierdie kwessies opper, want dit laat hulle godsdiens nog meer betwyfel want wat word weggesteek, en hoe moet hulle leer as niemand wil of kan antwoord nie?
Grootmense is net so teenstrydig wanneer dit by politiek kom. Hulle stem vir demokrasie en kla dan oor die gevolge. Wat tieners veral dom maak is dat baie grootmense wat in die openbaar liberaal optree terselfdertyd koverte rassisme of diskriminasie beoefen en dit aan hulle ook probeer “afsmeer”. Tieners verafsku enige vorm van hipokrasie want inherent is tieners eintlik eerlik (onbeskof eerlik, soms tot baie ouers se skande!) Terwyl al wat tieners eintlik wil hê is live and let live. Dis waaroor hulle musiek ook gaan so hulle begryp nie dat grootmense nie die waarde van hul musiek besef nie. Tienermusiek is vrede en liefde te midde van die wêreldchaos en moet spesifiek uitgeblêr word sodat grootmense ook die boodskap kan kry (miskien sal hulle dan rigting in die lewe vind). Maar nou kla grootmense oor die harde musiek, wat tieners weer laat wonder hoekom grootmense die tegnologie ontwerp as hulle dit nie mag gebruik nie...
Musiek en tegnologie loop hand aan hand, hoe meer desibels ʼn ding het hoe harder moet dit mos gespeel word (Grootmense ontwerp ook voertuie wat 280km/uur kan ry. Hoekom? Weet hulle nie die maksimum spoedgrens is 120km/uur nie?) 
Dus, redeneer tieners, is grootmense mos eintlik simpel. Hulle maak nie sin nie. Nie net is hulle onvoorspelbaar en onbetroubaar nie, hulle ontwerp ook tegnologie wat nie gebruik mag word nie en dit wat wel gebruik mag word, verstaan hulle weer nie. Hulle weet nie eens die verskil tussen Megabites en Gigabites of hoe BlueTooth en Infrared werk nie (Wanneer ʼn tiener jou wegkeer van sy rekenaar is dit meestal omdat hy bang is jy crash sy hardeskyf).
Daar’s nog tonne ander bewyse dat grootmense nie eintlik weet wat aangaan nie, soos stupid vrae. As ʼn tiener op die bed lê en staar, moenie vra wat hy doen nie. Verwag maar ʼn onbeskofte antwoord, dis mos logies: hy dink! As grootmense dit nie kan sien nie is hulle nog meer neandertal as wat hy besef het. Maar miskien is dit omdat grootmense nie “Inge-Digi-Kaans” kan praat nie. Baie grootmense glo wraggies steeds ʼn chip is ʼn aartappelskyfie, ʼn program iets op TV, ʼn web ʼn spinnerak, ʼn virus een of ander griep, en ʼn muis ʼn ding wat gate kou in meelsakke.
Nee wat, tieners surf liewer die Net, want destydse boeklees het grootmense ooglopend dom gemaak anders sou hulle mos nie die wêreld so verwoes het en nou van tieners verwag om hul kastaiïngs uit die vuur te krap nie (Of is dit eerder dat grootmense die boeke nie gelees het nie…?) Dan is grootmense mos boonop onregverdig ook?
 Dit moet werklik moeilik wees vir tieners om met grootmense huis te hou! Tieners is pro-red-die-wêreld en vir liefde en vrede terwyl grootmense aanhoudend bewys hulle wil alles rondom hulle vernietig, hulself veral. Geen tiener kan dit verstaan nie want eintlik is die Lewe ʼn wonderlike plek. Nou vra tieners hoe hulle van so ʼn generasie kan verwag om leiding te gee. Hoe kan tieners grootmensadvies ernstig opneem? En hoekom mag tieners nie opstandig voel daaroor nie? Die grootmense wat as rolmodelle moes dien het gate in die osoonlaag en global warming versaak, die ekonomie en opvoedkundige asook politieke geleenthede opgedinges, is betrokke by soveel vorme van misbruik en mishandeling; trap klei al die pad. Mens kan nie help om te wonder wat gee tieners hoop vir die toekoms nie: is dit dalk die feit dat grootmense vir hulle soveel wonderlike voorbeelde stel van wat om nie te doen nie?
Maar miskien is wat elke geslag red, die feit dat hul tieners meer intelligent as die vorige geslag s’n gebore word en meer geredelik kan aanpas by omstandighede...
Dalk is dit wat hulle hoop gee!

0 Comments

Your comment will be posted after it is approved.


Leave a Reply.

    Author

    Ilze Neethling

    - See more at: http://guinareswrites.weebly.com/3/post/2012/02/how-to-add-or-install-sharethis-button-on-your-weebly-blog.html#sthash.n5k30dnE.dpuf

    Categories

    All
    Animals/Psychology
    Educational
    Legal And Ethical
    Psychiatry
    Self Help
    Spiritual

    RSS Feed

    Today's Country Map I.D.
    (mouseover map to identify)
    Country Maps ID













































    Disclaimer: As stated on the home page, this site is both for educational [students] as well as self-help purposes [to reach those who do not always have access to direct professional help]. Where articles make use of case histories to demonstrate or support arguments, they are presented as examples only and comparisons which might be made with persons either living or dead is coincidental unless otherwise stated or referred to by research.
Powered by Create your own unique website with customizable templates.